Voorblad
Biografie
'n Musikant
'n Skrywer
Kiekies (Gallery)
My Boeke
My CD's
Lisa se Klavier
Koop Boeke, CD's
Laai MP3's Af
Free Music (Groen Fokkol Song)

 
 

Wie is Koos Kombuis ?

Van my geboorte kan ek nie veel onthou nie.  Ek weet wel dat dit gebeur het kort  voor teetyd op 5 November 1954 in ‘n kraaminrigting in Duiwelspiek, Kaapstad.   André le Roux du Toit is ek gedoop, maar op skool reeds het ek die bynaam Koos gekry.    My ma was ‘n onderwyseres en my pa toe nog ‘n maatskaplike werker.  Daar was nog nie iets soos kleur-TV in Suid-Afrika nie, selfs die alledaagse lewe was swart en wit, nes in die movie "Pleasantville".

My vroegste herinneringe is dié van ‘n removal van,  of, soos ek dit genoem het, ‘n "treklorrie".    My pa het dikwels van werk verander en daarom het ons ook aanhoudend getrek  van dorp tot dorp.   Terwyl my pa ge-dabble het in obskure goed soos Golden Products en Sanlam,   het ek my  kinder- en skooljare geslyt in Riversdal, Paarl, Wellington, Kuruman en Bellville.   Uiteindelik het ons vasgehaak in Stellenbosch.

Skool was vir my baie boring,  veral omdat ek myself al op drie leer lees het - van die agterkante van cereal-bokse af.  Kytie, ons bediende en my grootste maat, het die leerdery aangejaag deur my elke dag te vra om vir haar die strokiesverhale in Die Burger  te verduidelik.   My vaardighede was egter beperk tot sekere gebiede.  Voor die ouderdom van tien het ek reeds  ‘n dosyn romans getik op my pa se Underwoord-tikmasjien, maar ek kon nog steeds nie my eie skoenveters vasmaak nie.   My onderwysers het vas geglo ek is baie dom.   In ‘n sin was hulle reg, want hoewel ek lief was vir lees en vir musiek, het ek geen ambisie gehad om ‘n akademiese loopbaan te volg nie.

Ek was mal oor die army en  was daar laas so vet soos ek nou weer is !   Toe al my  vriende na 'n jaar in die army Stellenbosch Universiteit toe gaan, het ek begin rondswerf  van die een job na die ander.   Ek was die meeste van die tyd in Johannesburg.   Hierdie jare was baie donker en rigtingloos, maar ek het darem streetwise geword.   Ek het my hand aan alles probeer:   hoenders braai by Kentucky Fried Chicken, pizzas maak in restaurante, polisse verkoop, brande blus, klerk-speel in die staatsdiens en sulke goed.  Ek het  vir ‘n ruk selfs my lyf fortuinverteller gehou en vir  verveelde huisvroue voorspel wat die geslag van hulle babas sou wees  -   hierdie beroep het immers ‘n 50%  kans op sukses gehad, en ek was meer dikwels reg as verkeerd.

In 1976 het ek terug huis toe gegaan om te probeer  vrede maak met my ouers, van wie ek toe al lank vervreem was.   Ek het my pa-hulle heeltemal gek gemaak,  want ek het hulle oral deur die huis gevolg  om my nuutste (meestal swak) gedigte hardop vir hulle voor te dra.   Hulle het gedoen wat ek ook sou gedoen het met so ‘n kind:  hulle het my laat toesluit in die malhuis.    Ek was ‘n jaar lank 'n pasiënt in Saal 6, Weskoppies, tussen ‘n klomp drug addicts en skisofrene, voor een van die sielkundiges my ondersoek het en agtergekom het ek makeer niks nie.  Tot my groot ontsteltenis het hy my dadelik ontslaan.   Toe moes ek van voor af begin werk soek.

Bennie-Fritz, die verhale-redakteur van Huisgenoot,   het uiteindelik tot my redding gekom.   Hy het ‘n kortverhaal aanvaar wat ek vir hom gestuur het, en my gevra vir nog.  Ek het af gehitchike Kaapstad toe en twee jaar lank op vryskutbasis vir Huisgenoot   stories geskryf.  Teen hierdie tyd was ek wel al  so mal soos ‘n haas.    Ek kon slegs met normale mense kommunikeer deur my skryfwerk;  in my alledaagse handel en wandel kon ek net die taal van junkies praat.   Ek sou geleidelik ook begin om saam met hulle drugs te vat, ‘n nare gewoonte wat ek eers in die middel-neëntigs sou afskud.

Gelukkig vir my, het my kortverhale in Huisgenoot  gelei na groter sukses.   Ek het my naam verander na André Letoit om verwarring met ander skrywers te voorkom en  ‘n hele paar boeke (romans, kortverhale en gedigte) gepubliseer gedurende die volgende paar jaar.  Toe ek  verveeld raak met die erns van die literêre wêreld,  het ek ‘n kitaar gekoop en begin liedjies skryf.    Die een ding het gelei na die ander, en vandag het ek elf CD’s agter my  (nuwe) naam - Koos Kombuis.  Ek geniet dit om in teaters oral oor Suid-Afrika op te tree, meestal solo, maar soms saam met briljante musikante soos Schalk Joubert, Melissa van der Spuy, Kevin Gibson, Nicole Holm en Rocco de Villiers (om maar 'n paar te noem). Ek het ook die voorreg gehad om saam met die Belgiese musikant Stef Bos te werk. Ons het saam twee liedjies geskryf (Het Avondland en Die Duiwel en God, wat op sy CD "Van Mpumalanga tot die Kaap" verskyn.

In my hart wil ek egter steeds eerder skrywer as musikant wees. In 2000 voltooi ek uiteindelik 'n lank beloofde outiobiografie (Seks en Drugs en Boeremusiek ), dit word gevolg deur 'n roman (Hotel Atlantis ), 'n satire in Engels (The Complete Secret Diaries of God), 'n riller (Raka, die Roman) en 3 versamelings van voorheen gepubliseerde rubrieke (My Mamma is 'n Taal; Afrikaans my Darling en Die Dieper Dors ) en 'n na-betragting van my Voëlvry Jare (Die Tyd van die Kombi's in Engels uitgegee as Short Drive to Freedom).

Nou woon ek in ‘n nice voorstedelike huis,  ek ry ‘n Nissan X-Trail en 'n (geborgde) Toyota Quantum BUS ! Ek het ook ‘n vrou, twee kinders, DSTV en  genoeg life insurance dat ek nie my vrou onnodig kwaad maak nie.   My ma,  wat nog leef (my pa is reeds oorlede), is baie trots op my.

Terug Boontoe