|
|
DIE SKRYWERLees en skryf was van kleins af my grootste liefde - ek onthou nog goed hoe ek as tjokkertjie agter my pa se reusagtige Underwood-tikmasjien gesit het en die alfabet met twee vet wysvingertjies geslaan het. Die tikmasjien was so hoog dat ek op my knieë bo-op n klomp kussings, bo-op n hoë stoel moes sit om by te kom. Die boeke wat ek wou lees, was gelukkig nie so moeilik om by te kom nie. Die Agatha Christies en Raymond Chandlers op die hoë rakke het my nie geïnteresseer nie. Ek het meer belang gestel in die rytjie boeke op die heel onderste rak. Dit was n klompie stowwerige literêre boeke wat ons by my Oupa present gekry het. Oupa Schoonees was self n interessante man; hy het geweier om by die Broederbond aan te sluit, en so net-net rektorskap van Stellenbosch Universiteit vrygespring ! Later jare het hy n onskatbare bydra gelewer tot die samestelling van die HAT. As klein seuntjie het ek ure op die mat voor die boekrak deurgebring met my neus in ou digbundels deur Totius en Toon van den Heever. Ek onthou dat ek een dag in trane was oor Eugène Marais se gedig Skoppensboer; nie omdat die gedig my hartseer gemaak het nie, maar omdat my ouers nie die gedig vir my wou verduidelik nie! My eerste pogings as volwasse skrywer was meestal soetsappige snert - die soort stories wat maklik in gesinstydskrifte gepubliseer is, en n paar rand in my sak beteken het. Ek was buitendien te lui om eerbare werk te doen ! Later, as André Letoit (die uitgewers en literêre boffins kon dit so mooi in Frans uitspreek, sonder om ooit te besef dat dit maar net 'n anagram vir toilet was !) het ek n skielike vloed van publikasies die lig laat sien. Drie digbundels, drie kortverhaalbundels, vier romans, en een bundel korrespondensie het verskyn by uitgewers HAUM Literêr, Human en Rousseau en ander. Hierdie boeke is wel hoog aangeskryf deur al wat n resensent is, maar ek wéét dat dit ver van my beste was. Ek was self pretentious en vreeslik opgewonde oor al die fancy lunches en skemerkelkies saam met die literati !My eerste ordentlike boek, is ek sad om te sê, was Engels. Dit is n futuristiese feministiese fabel met die titel Paradise Redecorated, en was ook die eerste boek wat onder my nuwe naam, Koos Kombuis (Koos - my ou bynaam, en Kombuis - omdat ek toe in 'n kombuis gewoon het en aan niks beter kon dink nie), gepubliseer is. Ek sou graag n nuwe weergawe van dié boek wou skryf en natuurlik wil ek baie graag n meesterstuk in Afrikaans publiseer ! Bitterkomix publiseer in 1998 vir die eerste keer in jare n digbundel van my, Die Tweede Reën; n versameling effens dated gedigte wat ek reeds in die vroeë nineties geskryf het, meestal onder die invloed van n paar verbode middels. Behalwe om "rêrige" boeke te skryf, is my gunsteling stokperdjies om rubrieke te skryf vir verskeie publikasies en webwerwe en myself oor te gee aan tegnologiese foefies soos Facebook en Twitter! |
|
|---|