Voorblad
Biografie
'n Musikant
'n Skrywer
Kiekies (Gallery)
My Boeke
My CD's
Lisa se Klavier
Koop Boeke, CD's
Laai MP3's Af
Free Music (Groen Fokkol Song)

 
 

MUSIKANT

Daar is nie regtig ‘n verskil tussen lirieke skryf en gedigte skryf nie. Waarom daar dan alewig so streng onderskei word tussen die sogenaamde literêres en die arme liriekskrywers weet ek wragtag nie. My musiekloopbaan het voortgevloei uit my liefde vir skryf, my liefde vir Afrikaans en my onvermoë om die waansin van Apartheid te verstaan of te aanvaar. Ek wou sien hoe lyk die mense wat my boeke lees, ek wou hulle ontmoet en met hulle gesels om te hoor waar kry hulle hul idees. Toe klim ek op ‘n verhoog en ek sìng.

Dit het maar sukkel-sukkel gegaan aan die begin. Politieke toestande in Suid-Afrika het dit vrek moeilik gemaak vir ‘n ou om te sê wat hy wil, hoe hy wil. Maar gelukkig was daar ouens met guts, soos Dagga-Dirk Uys, wat nog kaalvoet oor die Drakensberg sou trek !  Dirk het aan die stuur gestaan van die Voëlvry Toer; ‘n baie deurmekaar spul musikante (ek, Piet Pers, Johannes Kerkorrel, Bernoldus Niemand, Willem Möller, Hanepoot van Tonder, Tonya Selly e.a) in ‘n kombi wat die land plat getoer het en in Afrikaans gerock-en-roll het! Die Toer is verban van vele kampusse en teaters, die kombi se tires is ‘n paar keer afgeblaas en die (swart) klankman moes soms goed weggesteek word in die whites-only hotelle langs die pad!

Kort voor die Voëlvry Toer het ek ‘n paar ouens gekry om my te help raas, so is die band, Die Warmblankes (later die First National Band), gebore. Feitlik sedert ons eerste gig het ek my bes probeer om hulle weer te fire, maar elke nou en dan hoor ek ‘n geskuifel agter my op die verhoog, en as ek omkyk, staan die outjies maar weer daar ! Selfs ek is nie altyd seker wié in die band is nie, maar die volgende briljante musikante het al gesig gewys:

Dromme: Dagga-Dirk Uys, Frank Frost, Valiant Swart, Dapper Jannie, Vernon Swart, Kevin Gibson

Lead-Kitaar: Poena, Anton L’Amour, Albert Frost

Ritme-Kitaar: Waterkloof Jones (my neef !)

Baskitaar: (Schalk) Amajuba Joubert, Doris Delay, Niek

Orreltjie: Agent Orange, Melissa van der Spuy

Female Vocals: Liela Groenewald, Melissa van der Spuy

Met die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika het dinge lekker begin raak. Daar is ‘n oplewing in GOEIE local musiek (en ongelukkig ook in BAIE SWAK local musiek, maar nou ja), daar is baie venues waar kunstenaars van hulle kan laat hoor, Oppikoppi het GEBEUR ! Daar is 'n hele kanaal op TV net vir Afrikaanse musiek (MK op DSTV) en elke tweede skoollaaitie speel in ‘n bênd (girls is nou drummers !).

Ek is nou ‘n ou toppie en geniet dit al hoe meer om solo shows in teaters voor rye nice omies en tannies te doen, of om saam met kunstenaars van ander lande, kulture en style saam te werk; soos byvoorbeeld Stef Bos (België), Amanda Strydom, Laurika Rauch, Louis Mhlanga, Syd Kitchen en Rocco de Villiers. Maar ek voel ook al hoe meer 'n bekende gekriewel in my binneste, so asof daar dalkies net een van die dae weer 'n geskuifel agter my op die verhoog gaan wees... 

Ek is baie dankbaar vir die sukses wat ek met musiek bereik het, al verstaan ek nie aldag hoe dit gebeur het nie. Ek was geweldig lucky om die breaks te kry, maar dit sou onmoontlik gewees het sonder die hulp van ‘n hele boel vriende.

Terug Boontoe